Inhuldigingsrede gelewer deur dr Chris Stalsby geleentheid van die aanvaarding van die Kanselierskap van die Universiteit van Pretoria. 1. InleidingDit is vir my 'n groot eer om die amp van Kanselier van die Universiteit van Pretoria by hierdie plegtigheid formeel te aanvaar. Ek is dankbaar vir die geleentheid om aan my Alma Mater 'n klein bietjie terug te kan gee van die baie wat ek van hom ontvang het.Ek bring hulde aan my voorganger, dr Anton Rupert, wat vir 'n dekade, van 1987-02-19 tot aan die einde van Desember 1996, hierdie pos met eer gevul het. Hy het dit met waardigheid gedoen en aan die amp van Kanselier 'n status verleen wat groot eise aan sy opvolgers stel. Dit is vir my 'n voorreg om in sy voetspore te kan volg. 2. Die veranderende wêreld-omgewingOns leef in 'n tydperk van groot verandering wat eerstens 'n wêreldgebeurtenis is, wat voorts ons land en ons mense wesentlik raak, en wat die aard en die vorm van bekende strukture soos regeringstelsels, ekonomiese leerstellings, godsdiensverbande, opvoedingsisteme en kulturele ordes aanraak. Dit is 'n nuwe spel met nuwe reëls waarin 'n nuwe strategie vir die bereiking van nuwe doelwitte beoefen sal moet word.Die ontwikkeling van die moderne elektroniese tegnologie is besig om die lewenswyse van mense net so ingrypend te verander as wat die landbourevolusie van die Middeleeue en die groot nywerheidsomwentelinge in die middel van die agtiende, en teen die einde van die negentiende eeu, gedoen het. Nou, in die laaste gedeelte van die twintigste eeu, beleef ons nie net die einde van nog 'n millennium nie, maar ook die aftakeling van baie van die wesenlike eienskappe wat die lewenswyse van feitlik die ganse mensdom oor die afgelope twee eeue gemaak en gevorm het. Ons staan nou aan die einde van 'n lang tydvak wat deur die nywerheidsrevolusie ingelei is en waartydens mag en rykdom deur die besit van grondstowwe, kapitaal en ondernemersvernuf bepaal is. Ons het die einde van kommunisme beleef; die einde van 'n wêreld waarin 'n enkele land oorheersing oor andere met geweld kon soek en afdwing; die einde van die na-oorlogse kapitalisme; en van die afhanklikheid van die massa werkers van groot werkgewers en die enkele besitters van welvaart.Die elektroniese revolusie van die afgelope twee dekades het reeds die weg gebaan vir 'n geïntegreerde wêreldgemeenskap waarin belangegroepe met mekaar deur middel van elektroniese netwerkstelsels óór lands- en seegrense heen verbind word. Die konvensionele begrip van 'n nasie of 'n volk wat in 'n omlynde en beperkte geografiese gebied onder 'n enkele regeringseenheid saamgevoeg is, kan in hierdie proses baie van sy historiese waarde en betekenis verloor. Mág wat in die verlede op die eksklusiewe toegang tot inligting en kennis, en die beheer oor beperkte beskikbare hulpbronne gebaseer is, kan nie meer deur regerings of belangegroepe vir hulself beskerm word nie. Mag en rykdom is nou nie meer uitsluitlik in die besit van grond en grondstowwe of kapitaal opgesluit nie, maar ook in intellektuele vermoëns. Elke individu kan nou toegang verkry tot die bron van 'n universele verspreidingsnetwerk wat inligting en kennis binne die bereik van almal plaas. Dit is in elke persoon se vermoë om uit dié bron meer inligting en kennis te tap. Dit is elke persoon se eie taak en verantwoor-delikheid om van die inligting en kennis wat só maklik verkry kan word, vir homself wysheid en insig te ontwikkel.Enige proses van revolusionêre verandering bring onvermydelik onsekerheid mee. Die toekoms is nie nou meer maar net 'n verlengstuk van die verlede nie. 'n Rekenaar-program wat op gevestigde patrone en verwantskappe gebaseer is, kan nie in hierdie omstandighede meer gebruik word om die toekoms te voorspel nie. Die formules waarop sukses in die verlede gebou is, geld nie meer in dié nuwe omstandighede nie. Al wat duidelik is, is dat die verlede verby is, en dat die wêreld van môre anders gaan wees. Daar is geen padkaart wat die weë in hierdie nuwe toekoms aanwys nie -- daar is inderdaad in die terra incognita geen gebaande paaie wat gevolg kan word nie. On